Ons lewende HOOP – Jesus!

1 Petrus 1 Danksegging weens die hoop op die saligheid. 3Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergebore geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode.

Wanneer ons hierdie gedeelte lees dan sien ons dat dit praat van ‘n wonderlike hoop.’n Hoop wat God die Vader vir elke kind van God gee. Dis ‘n hoop waarvan elke uitverkore kind van God kan getuig.

In vers 1 en 2 het ons gesien, Petrus sê dat God skryf hierdie woord vir die uitverkorenes, maar ook vir die wat verstrooid is. Die wat versprei was, die wat vervolg was, die wat gesien was as vreemdelinge omdat hulle Jesus aanvaar het as verlosser en saligmaker. Omdat hulle God dien, word hulle geken of gesien deur die ander as vreemdelinge.

Wanneer ons dit lees dan sien ons God praat ook met ons. Petrus begin vers 3 met hierdie lofprysing en aanbidding met ‘n erkenning aan God die Vader. Omdat God die Vader Hom oor ons ontferm het en omdat Hy ons genadig is.

Waar sou ons wees as God ons nie genadig was nie? Wat sou van ons geword het as God ons nie barmhartig was nie? Ons is gered deur liefde as gevolg van God se genade. In Petrus se belydenis kom hy hier in die begin, voordat hy aangaan, met ‘n lofsang en hy sê: “lofwaardig is die God en Vader van onse Here Jesus Christus”. Hierdie is een van die kosbaarste maniere om God te begin aanbid. Begin om God te erken as die God van die heelal.

Geseënd, wonderlik, kosbaar, lofwaardig, groot en heilig is die God en Vader van onse Here Jesus Christus.

Ons sien in Jesus se voorbeeld vir ons as kinders van God, sê Hy: Ek sê niks en Ek doen niks wat Ek nie by die Vader hoor sê en doen nie. Hy sê: alles wat Ek gekom het om te doen is om die Vader te verheerlik, om die Vader te eer en om God die Vader te erken as die soewereine, heilige, grote God van die heelal.

Selfs in die gebed wat Jesus aan sy dissipels leer, die Onse Vader, begin Hy met die woorde: Onse Vader wat in die hemele is. Laat U naam geheilig word. Laat U koninkryk kom. Laat U wil geskied soos in die hemel so ook op die aarde.

Alle aandag is gefokus op die God en Vader van onse Here Jesus Christus. Ons lewe, ons bestaan, ons as kind van God se hele fokus moet wees op God die Vader. Because – that’s what it’s all about.

Baie keer kom ons en ons fokus so op onsself en ons is nie gefokus op God en Vader van onse Here Jesus Christus nie. Ons lofprysing en ons aanbidding is awesome en dis lekker om die Here te dien, maar laat daar iets gebeur wat ons aandag aftrek. Is ons aanbidding, is ons lof gefokus op die Vader en op Hom alleen, want dis waaroor ons geloof gaan; om God en Vader van onse Here Jesus Christus te erken en Hom te aanbid.

Petrus kom en hy sê lofwaardig, geseënd en wonderlik is die God en Vader van onse Here Jesus Christus. Die kern van ons, as kind van God, se lewe, die kern van ons bestaan, die kern van ons hoop as kinders van God lê vasgeanker in die opstanding van Jesus Christus.

Dis omdat Jesus opgestaan het uit die dode dat ons hoop het vir vandag. Petrus kom en hy praat hier van die hoop. Die hoop waaraan ons vashou is nie ‘n dooie en onsekere hoop nie. Dis nie ‘n hoop wat geskep word deur die wêreld nie, nee, dis ‘n ewige lewende hoop. En daardie hoop is gebou op Jesus Christus omdat Hy lewe.

Dit is omdat Jesus lewe dat ons lewende hoop het dat ons by die Vader sal uitkom. Die hoop het om die Vader te verheerlik, Hom te aanbid en Hom te erken. Dit is hierdie hoop waarin elke kind van God vashou in Christus wat vir ons nuwe lewe gee. Dis hierdie hoop wat ons die uithouvermoë gee om staande te kan bly.

Omdat Jesus lewe het ek hoop vir môre. Omdat Hy lewe het ek hoop vir my omstandighede. Omdat Hy lewe het ek hoop om die ewigheid te kan behaal saam met Jesus. Want hy wat Jesus aanvaar het as verlosser en saligmaker word genoem wedergebore kind van God. En omdat jy wedergebore is, die ou mens afgesterf het, jy het ‘n nuwe mens geword, het jy weer nuwe hoop.

Het jy nog die hoop dat God sal antwoord? Het jy hoop dat Hy sal deurkom in jou situasie, in jou omstandighede? Sien jy nog hoop of het ons hoop verloor? Partykeer raak ons omstandighede so donker en so moeilik. Hierdie winterseisoen wat ons deurgaan raak so koud dat ons hoop verdwyn. Die feit dat Jesus leef en dat ons kind van God is, die feit dat Hy opgestaan het, gee vir ons lewende hoop.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Search

Popular Posts

Categories

Tags