Vermaning om heilig te wees.
13 DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op
die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.
14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat
tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel
heilig word,
16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.
17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel
volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle
vreemdelingskap;
18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit
julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en
vlekkeloos,
20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste
tye geopenbaar is om julle ontwil,
21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid
gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.
22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot
ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;
23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur
die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die
gras. Die gras verdor en sy blom val af,
25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle
verkondig is.



Leave a Reply