
1 Petrus 1 4sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemel bewaar is vir ons.
Onverganklike beteken iets wat nie tot niet kan gaan nie. Dit kan nie verval nie of dit kan nie vernietig word nie. Dit is iets wat ewigdurend is, iets wat onsterflik en onverderflik is.
Die volgende woord wat daar gebruik word is Onbesmette. Wat beteken onbesmet? Sonder vlekke of besoedeling. Skoon en suiwer, moreel rein, sonder sonde en sonder skuld.
Onverwelklike is iets wat nie kan verwelk of verdof nie. Iets wat altyd vars en mooi bly. Iets wat blywend van aard is, iets wat voortdurend in dieselfde goeie kondisie en toestand bly. Met ander woorde dit word nie ouer nie, dit verwelk nie, dit raak nie dof nie, dit bly soos wat dit oorspronklik geskape is.
Hierdie drie woorde gebruik die Woord van God hier om vir ons te sê daar is ‘n erfenis wat onverganklik, onbesmet en onverwelklik is. ‘n Erfenis wat nooit kan vergaan nie, ‘n erfenis wat nooit kan besmet nie, ‘n erfenis wat nie kan verwelk nie. ‘n Ewige erfenis wat in die hemel vir elke kind van God in bewaring gehou word.
As jou pa vir jou kwaad is omdat jy nie doen wat hy wil hê jy moet doen nie dan onterf hy jou. Nie die erfenis wat ons by God kry nie. Weet jy as God iets bewaar kan geen mens daaraan raak nie? Kyk, toe God die tuin van Eden gesluit het nadat Adam en Eva gesondig het kon niemand weer daar in gaan nie. Kyk hoe God die deur van die ark gesluit het.
As God jou erfenis verseël is dit vas vir altyd. En ons erfenis is nie net die hemel nie, dis die koninkryk van God. Dis die volheid van God, dis Sy seën, dis Sy verlossing, dis Sy redding, dis Sy alles wat Hy vir ewig vir jou en my bewaar. Die Christen, die kind van God, die wedergebore, Heilige Gees gevulde, Bybelgelowige, bloedgewasde kind van God het ‘n toekoms wat vir ewig deur God beskerm word. Nie net belydende Christene nie.
Wat beteken dit vir elkeen van ons? Wat Petrus hier sê is, dat die mense vir wie hy skryf, daardie wat verstrooi is, wat vervreemd geraak het, wat as bywoners gesien. word deur die Romeine, sê hy: God het julle uitverkies vir ‘n spesifieke doel en ‘n plan.
2in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!
Ons sien in die begin van die skrif dat Petrus hierdie geskrewe rig aan die uitverkores. Dit is nie meer net die wat verstrooi is nie, maar die uitverkores van God. Met ander woorde gelowiges wat uitverkore is, wat gered is, geregverdig is, geheilig is, maar wat in ‘n wêreld lewe. In daardie wêreld word hulle gesien as vreemdelinge.
Die wêreld mag dalk kom en ons sien as vreemdelinge. Hulle mag dalk dink jy is weird. Hulle mag dalk dink jy is anders. Hulle mag dalk nie verstaan hoe kan jy die dinge doen wat jy doen en hoekom laat jy sekere geleenthede maar net verbygaan en hoekom wil jy nie deel hê aan sekere goed nie. Vir die wêreld maak dit nie sin hoe kan jy in die kerk sit as dit koud is nie. Vir die wêreld maak dit nie sin dat jy bereid is om alles te los en Jesus te volg nie.
Die rede is nie as gevolg van iets wat ons doen of kry nie, ons weet dit is as gevolg van wie ons is. En ons is burgers van ‘n ewige tuiste, ‘n ewige koninkryk.
Die realiteit is, jy is op jou pad hemel toe. Elke dag langer op hierdie aarde is ‘n dag nader aan die hemel. Wanneer ons oor beweeg het ons ‘n ewige burgerskap in Jesus Christus.’n Burgerskap wat God bevestig het vir altyd en vir ewig.
Jou waardes en jou prioriteite is anders as die wat buite Christus is. En daarom kan ek nie myself vereenselwig of kan ek nie myself verbind met prioriteite en waardes wat nie moreel en nie deel is van dit wat God se Woord sê nie. En as gevolg van dit word jy gesien as ‘n bywoner.

Dit sê nie ons lewe nie saam in die wêreld nie. Dit sê nie ons deel dalk nie kantore by die werk nie. Dit sê nie ons loop dalk nie dieselfde pad nie, maar dit sê ek het nie dieselfde waardes en prioriteite as hulle nie, omdat ek dinge anders beleef nie, omdat ek genade gevind het en Jesus het my oë oopgemaak en ek wil anders leef. So Petrus kom en hy deel met die mense, hy sê: “Julle waardes is anders, julle prioriteite is anders.”
Dit kos ‘n prys. Dit kos dat jy dalk verwerp word, kos dalk dat jy skuldig aangekla word vir iets wat jy eens op ‘n stadium gedoen het. Ons is op die aarde maar ons is nie van die aarde nie. Ons burgerskap is ‘n ewige
burgerskap en dis waarheen ons op pad is.



Leave a Reply