Johannes 12:1-8 1En Jesus het ses dae voor die Pasga na Betánië gekom waar Lazarus was, wat dood gewees het en wat Hy uit die dode opgewek het. 2Hulle het toe vir Hom daar ‘n maaltyd berei, en Martha het bedien; en Lazarus was een van die wat saam met Hom aan tafel was.
Jesus kom en Hy gaan besoek Sy vriend Lazarus se huis. Jesus het Lazarus uit die dood uit opgewek nadat hy vier dae lank dood was.
3En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en Sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf. 4Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai: 5Waarom is hierdie salf nie vir 300 pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie?
Maria kom en sy bedien Jesus. Die ander dissipels is rondom Jesus en Judas staan en sê: “Hoekom verkoop ons nie eerder hierdie nardussalf nie?” Nardussalf is ‘n baie duursame en kosbare parfuum.

6En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het.
Judas sê: “Kom ons verkoop hierdie goed en maak geld daarmee”, nie omdat hy bekommerd was of in liefdadigheid sy hart oopgemaak het vir die armes nie. Die Bybel sê dat hy ‘n skelm was; omdat hy ‘n dief was en omdat hy homself uit die beurs uitgehelp het. Hy het homself verryk met die fondse wat hy sou wou inkry.
7Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van My begrafnis. 8Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.
Judas was nie bereid om sy alles vir Jesus te gee nie. Judas was nie bereid om sy totale menswees vir Jesus te gee nie. Judas was bereid om vir Jesus iets te gee, maar nie alles nie. Daar’s ‘n verskil om vir Jesus iets van jou lewe te wil gee en om vir Hom te sê: “Here, my alles behoort aan U.”
Daardie dag toe Judas vir Maria sien hoedat sy hierdie kosbare nardussalf neem en oor Jesus se voete uitstort, toe hy dit sien mis hy die doel waaroor dit alles gaan. Hy sien net dat Maria kom en sy kom mors.
Judas sien net hierdie nardussalf wat soveel geld kon maak en hy mis die oomblik van aanbidding. Hy staan van die kant af en kritiseer, is negatief en mis die hele geleentheid, maar Maria kom en sy erken ‘n geleentheid om by die voete van die Messias te wees. Sy sê: “Hier is ‘n kans vir my om die Messias, my Verlosser, my Saligmaker, om God te aanbid.” Judas aan die ander hand staan: “Hier’s ‘n kans om geld te maak.”
Hierdie is ‘n teken van totale oorgawe en aanbidding.




Leave a Reply