
Paasfees is ‘n verklaring wat God maak oor Sy volk, nie net die Israeliete nie, elke persoon wie Hy geskape het. Dis ‘n verklaring van liefde, “want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste gebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie”.
Die hele Hooglied is ‘n liefdesverhaal tussen ‘n bruid en ‘n bruidegom. Dit begin in hoofstuk 1 waar hulle mekaar ontmoet en hulle vind hierdie liefde vir mekaar. En hulle kan net nie hulle liefde inhou nie, hulle vertel vir almal van hulle liefde, hulle is so lief vir mekaar. En hulle kan nie wag om bymekaar uit te kom nie. Hulle kan nie wag vir die dag wanneer hulle vir ewig bymekaar kan wees nie.
Die bruid, sy praat gedurig van die bruidegom, hoe kosbaar Hy is, hoe mooi Hy is, wat Hy alles vir haar doen, wat Hy alles vir haar beteken. En net so die bruidegom en Hy sê, hoe lieflik sy is, hoe pragtig sy is, hoe mooi sy is en alles wat sy kan doen. En Hy kom en Hy stort Sy Gees uit oor haar. En dan vergelyk Hy haar met ‘n tuin en Hy sê: dit is die tuin wat gevul is met hierdie lieflike plante. En hierdie tuin is gevul met die vrug van die Gees en dit gee ‘n lieflike geur. En Hy bring Sy vriende, Sy maats bring Hy na hierdie tuin om te kom kyk. Kom kyk, dit is My bruid, kyk hoe mooi is sy. Sy is vol liefde; sy is vol vrede en sy is vol vreugde. Dit wat jy nodig het, as jy genesing nodig het, kom na haar toe want ek het haar geseën met My Gees.
Hulle is versot op mekaar, hulle is mal oor mekaar.
Maar dan is daar een dag, een dag word hierdie bruid moeg. Sy’s so moeg, sy gaan lê op die bed. En sy hoor die klop aan die deur en sy weet dis haar bruidegom. Sy kan hom bereik maar sy’s so moeg. Sy sê: Nie vandag nie. Ek gaan maar net nog ‘n bietjie langer lê, nog ‘n bietjie langer slaap. En toe Hy wegdraf besef sy, sy verloor Hom en sy hardloop agterna. Sy draf die strate in en sy soek na haar bruidegom. Waar is Hy? Wat het van Hom geword? Sy gaan na haar vriende toe. Waar is Hy? Maar sy weet nie waar Hy is nie.
In ‘n kort oomblik van moegheid verloor sy alles, verloor sy die teenwoordigheid van haar bruidegom. Maar die storie eindig wel goed, want Hy is genadig en Hy kom terug en Hy sien haar weer en Hy herinner haar: dat daar is ‘n dag wanneer Ek jou gaan kom haal, jy moet gereed wees. En sy sê: My beminde, my beminde is myne en ek behoort aan Hom.
Ons hoor so dikwels dat ons moet God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand, in alles moet jy God liefhê en dan moet jy jou naaste liefhê soos jouself. Vandag maak ons ‘n liefdesverklaring teenoor ons God en sê: Here, ons het U lief. U het ons eerste liefgehad nog voor ons U geken het of geweet het van U het U, U Seun gestuur om aan die kruis te sterf sodat ons ‘n verhouding met U kan hê, ‘n verhouding van liefde.
Almal wat sê “ek het Jesus al aanvaar as verlosser en saligmaker, ek is wedergebore, ek is geesvervul, ek is ‘n kind van God en ek glo die Woord” – dié woorde is vir julle! Maar ook nuwe bekeerlinge, mense wat onlangs hulle harte aan die Here gegee het. Ek wil ‘n waarskuwing vir jou rig. God sê moenie op die plek kom waar jy louwarm word nie.
Pasop dat jy nie stagneer in jou geestelike lewe hier op aarde nie, want as jy in daardie area verval is dit baie moeilik om daaruit te kom. God het ons geskape liggaam, siel en gees en ons as kind van God moet waak om nie in die geestelike realm, die fisiese of die psigiese realm te stagneer in ons lewe nie.
In Hebreërs hoofstuk vyf vanaf vers 8-11 kom die Heilige Gees en Hy waarsku ons teen die groot afvalligheid. En hierdie is ‘n baie belangrike waarskuwing. Vers agt sê: 8“Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; 9en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword 10en is deur God genoem ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek.

Van wie spreek die Woord van God hier? As Hy sê “Hy wat die Seun was, Hy wat gehoorsaam was”, Hy praat van Jesus. En daarom kan net Jesus vir ons ‘n ewige bewerkstelliger wees van alles wat God daar vir ons gestel het. 11”waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor”. Wat is ‘n ander manier wat ons dit kan stel? Dat jy lui geword het om te doen.
12”Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer,en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie”. Wat sê Hy hier vir die kerk, die gemeente van Laodicense? Hy sê julle het louwarm geword. Die Here gebruik hierdie gedeelte en Hy praat met die gemeente van Laodicense, maar ook wil Hy met ons gesels as kind van God.
Partykeer kom ons as kinders van God op ‘n plek in ons lewe waar ons louwarm word. Ons is nie sataniste nie, maar ons loop nie aan die brand vir die Here nie. Ons doen nie wat Hy vir ons sê nie, maar ek doen ook darem nie meer die wêreld se dinge nie. Die Here wil hê ons moet daardie vuur van die Heilige Gees weer in ons wakker maak en aan die brand steek.

God roep ons om nie stagnante water te wees nie, maar lewende water wat vloei en wat lewe bring, wat skoonwas, wat reinig.



Leave a Reply