Matt 25:14–30
God roep ons om Rentmeesters te wees wat getrou is in Sy groot gebod en in Sy groot kommissie, in ons elke dag lewe. Wat baat dit ons om alles te hê wat ons nodig het, ons besit alles wat ons gelukkig maak en ons doen waarvan ons hou, maar ons mis God se doel in ons lewens? Jesus het voordat Hy opgevaar het na die hemel om aan die regterhand van God die Vader te gaan sit, na Sy kruisdood, met Sy dissipels gepraat. Vandag is ons Sy dissipels, Hy praat met ons en sê: Ek wil hê julle moet hoor wat vir My belangrik is. Dis nie noodwendig silwer en goud, wat mot en roes verwoes nie, maar dit is om te doen wat die wil van die Vader is. Die wil van die Vader is om God se groot gebod gehoorsaam te wees. Om God-drie-enig lief te hê, en ons naaste lief te hê soos onsself. As ek nie die liefde het nie, het ek niks. Openbaring – Een ding het ek teen jou – Dat jy jou eerste liefde verlaat het. Ons eerste liefde is God! Om die groot kommissie uit te leef is vir elke dissipel van God. Dit gaan verder en dieper as net praat. Dit kos van ons om Rentmeesters te moet wees, wat getrou is in dit waarvoor God ons geroep het. ʼn Rentmeester is iemand wat omsien na iemand anders (baas) se belange of besittings. God roep ons om Rentmeesters te wees na aan Sy hart, wat waardig en getrou is. God roep ons om Sy hande en voete te wees, om by Sy doel uit te kom en dit reg te doen. En toe te sien dat ons dit getrou en waaragtig doen. Die Here het ons elkeen iets gegee (talent) en die vraag is: Wat doen jy met jou talent? Neem jy veranwoordelikheid vir dit wat God vir jou gegee het? Niks is meer belangrik as om God se doel te bereik nie. God gee ons die verantwoordelikheid om daardie rol te vervul, as Rentmeester. God het Sy besittings aan ons toevertrou om na dit om te sien. Ons is nou verantwoordelik vir dit, maar dit is nie ons goed nie. Ek kan nie eienaarskap vat en sê dis myne nie – dit is alles God se goed (bediening, roeping, besittings). As jy nie jou talent gebruik nie, sien God jou as ʼn nuttelose Rentmeester. Elkeen van God se Rentmeesters het ʼn groot verantwoordelikheid – ons werk nie vir onsself nie. Die Here wil ons op ʼn dieper plek inneem, waar Hy ons net meer help en vorm.


